
=====================================================================
Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Om vir moedertaal te stry of nie

Anton van Niekerk bekyk raakpunte tussen Afrikaanssprekendes wat vir die taal wil stry, en di wat stryd afkeur.

DIE spanning tussen die nuwe stryders vir Afrikaans en diegene wat baie veil het vir Afrikaans, en tog skepties staan teenoor 'n taalstryd, 
is 'n bron van kommer vir baie. Voordat ons daarna ondersoek instel of die kloof oorbrugbaar is, sal dit loon om elke kant se argumente 
weer kortliks agtermekaar te sit.

Om mekaar (beter) te verstaan, is altyd 'n eerste stap op die moeisame weg van versoening, veral in intellektuele debatte.

Eerstens dan die posisie van die taalstryders. Hul argument, soos ek dit verstaan, is dat Afrikaans sterk bedreig word, grotendeels omdat 
dit tans die gevaar loop om sy status as openbare kommunikasiemiddel geheel en al te verloor. Afrikaans vaar wel goed as sg. "private 
taal", dit is as gespreksmedium vir private gesprekke, die opvoeding van kinders in gesinsverband en sowel letterkundige produksie as 
verbruik. Maar Afrikaans word bedreig as onderwystaal, administrasietaal, die taal van regspraak en uitsaaitaal, veral oor televisie. Die 
argument dat Afrikaans veilig is so lank mense dit praat en lees, gaan volgens hierdie standpunt nie op nie. 'n Taal se voortbestaan hang 
nie bloot af van private gebruik nie; trouens, soos al by geleentheid beweer is, blote private gebruik dreig om soos van ouds Afrikaans te 
relegeer na die status van 'n "kombuistaal".

'n Taal kan in die teenswoordige wreld slegs oorleef en groei as dit openbare sanksie geniet en vir openbare gebruik verskans word. Die 
situasie dat Suid-Afrika elf amptelike tale het, is onwerkbaar, en bring eenvoudig mee dat die posisie van Engels as lingua franca 
voortdurend ten koste van die ander tale versterk word. 'n Meer realistiese taalbedeling vir Suid-Afrika vereis dat slegs drie of vier tale 
(Engels, Afrikaans, Xhosa/Zoeloe en Tswana/Sotho) as amptelike tale erken word, en dan werklik gelykberegtig word in openbare (insluitende 
onderwys-) gebruik.

Teenoor laasgenoemde standpunt staan mense -- en baie is jong mense -- wat die jongste "taalstryd" met groeiende skepsis bejen. Kom ons 
noem hulle die "skeptici".

Volgens hierdie groep is die taalstryders se beskouing oor (die belang van) Afrikaans veels te onhistories, en ruik die nuwe stryd alte 
veel na 'n front vir die "nuwe regses". Oor Afrikaans kan nie gepraat word sonder die politieke bagasie van die verlede nie; die eertydse 
"taal van die verdrukker" verander nie oornag in 'n taal van verontregtes nie. Afrikaans is belangrik, en sy prestasies moet erken en 
ontwikkel word. Maar 'n eksklusiewe stryd vir Afrikaans is tot mislukking gedoem as dit nie gepaard gaan met 'n ewe energieke stryd vir die 
erkenning van al nege die ander Suid-Afrikaanse minderheidstale wat vra om 'n plekkie in die son nie.

Daarby: die taalstryders is veels te paranoies oor Afrikaans en sy vermeende bedreiging. Afrikaans floreer kennelik; daarvan lewer die 
stroom nuwe Afrikaanse boeke, 'n dinamiese radiosender soos RSG, 'n Afrikaanse televisie-(weliswaar betaal-!) kanaal, 'n rits Afrikaanse 
kultuurfeeste (met Oudtshoorn as die hoogtepunt), en die wydverspreide gebruik van Afrikaans (tot in Namibi) oorvloedige bewys.

Het ons hier te make met twee onversoenbare paradigmas wat, op grond van botsende uitgangspunte en veronderstellinge, kwalik met mekaar kan 
kommunikeer? Ek twyfel. Elkeen het 'n punt beet, maar kan terselfdertyd iets waardevols by die ander leer. Ek wys op 'n paar kwessies in 
hierdie verband:
---------------------------------------------------------------------

Die skeptici is heeltemal reg as hulle verklaar enige stryd rondom Afrikaans kan sigself slegs met die grootste moeite losskeur van die 
politieke bagasie van die verlede. Dit was immers, om net een voorbeeld te noem, vanwe swart kinders se wrewel omdat Afrikaans aan hulle 
opgedwing is, dat die Soweto-opstande in 1976 uitgebreek het. Die skeptici is reg as hulle daarop aandring dat daar 'n ondubbelsinnige 
skeiding moet kom tussen die bevordering van Afrikaans en enige politieke agenda wat ruik na 'n herlewing van oustyl Afrikanernasionalisme. 
Die tyd is eenvoudig teen laasgenoemde, en as die persepsie ontstaan dat Afrikaans gebruik word as verskoning om die adder van neo-
apartheid steeds aan die boesem te troetel, is dit die dood in die pot vir Afrikaans.
---------------------------------------------------------------------

Daarteenoor moet die skeptici daarteen waak om naef te wees oor taal en die bemagtigende funksie wat taal in die lewens van mense speel. 
Taal is veel meer as 'n blote kommunikasiemiddel. Taal is nie slegs 'n instrument wat ek willekeurig kan kies om 'n reeds betekenisvolle 
werklikheid ter sprake te bring, asof die keuse van watter taal ek daarvoor kies, eintlik bloot toevallig is nie. Taal ontsluit die 
werklikheid vir individu en gemeenskap in sy mees oorspronklike sin. Wat die wreld vir my is, word in wese medebepaal deur die toonaard 
wat my moedertaal vir my daaroor verklank. Taal is daarom 'n mede-skepper van menslike identiteit. Mense wat in 'n tweede taal kommunikeer, 
het daarby altyd en noodwendig 'n agterstand by diegene wat die betrokke gesprek (mondeling of skriftelik) in hul moedertaal voer. Elke 
Afrikaner aan 'n Engelse universiteit voel dit aan die lyf.

Ons simpatie moet dubbel soveel wees vir swartes in Suid-Afrika, wat feitlik al hul opvoeding in 'n tweede, en soms selfs derde taal moet 
ondergaan. (Terloops, dat swartes dit regkry, illustreer hul merkwaardige vermo tot veeltaligheid.)

My betoog is dat Afrikaanssprekende skeptici wat reken dat Afrikaans ontbeerlik is, of dat 'n stryd vir die behoud daarvan onbelangrik is, 
nie die ontsaglike bemagtigende waarde wat hierdie taal aan hulle verskaf het, verstaan nie -- ten spyte van al die politiek-ideologiese 
ballas wat dit saamdra.

Afrikaans kon ons daarby nie bemagtig het, soos wel gebeur het, sonder 'n lang, volgehoue stryd om dit oor dekades so te standaardiseer dat 
dit nie alleen 'n groot letterkunde opgelewer het nie, maar ook 'n wetenskapstaal geword het. Dis 'n kleinood wat die moeite werd is om te 
koester.
---------------------------------------------------------------------

Waarop sowel stryders as skeptici hulle met ewe veel vrymoedigheid, en sonder die gevaar van verleentheid, tans in Suid-Afrika kan beroep, 
is die Grondwet. In die Grondwet is taalregte vir al elf amptelike tale verskans. Wat onmiskenbaar tans gebeur, en waaroor stryders en 
skeptici gerus kan saamstem, is dat van daardie verskansing in die praktyk baie min kom, en dat ons 'n sosiaal-politieke bedeling ervaar 
wat Engels oppermagtig teenoor die ander tale verklaar het. Dit, op sy sagste ges, is eenvoudig ongrondwetlik, en behoort bestry te word 
deur almal -- ook nie-Afrikaanssprekendes -- wat glo in die oppergesag van die (Grond-)wet.
---------------------------------------------------------------------

Ons kan saamstem dat 'n eksklusiewe stryd vir Afrikaans kontraproduktief is in ons huidige tydsgewrig. As Afrikaners 'n ereskuld het om te 
betaal ten opsigte van die onreg wat hulle in die verlede gepleeg het, dan is dit om aan mede-Suid-Afrikaners dieselfde bemagtiging in hul 
moedertale te gun as wat hulle self beleef het deur Afrikaans. Die stryd vir Afrikaans moet 'n stryd vir alle minderheidstale in Suid-
Afrika wees. Daarsonder sal dit werklik sukkel om legitimiteit by alle Suid-Afrikaners te verwerf.
---------------------------------------------------------------------

Ten slotte kan ons saamstem dat dit waarskynlik beter is om meer te doen en minder te praat oor wat ons behoort te doen. Afrikaans is 'n 
bate wat tot voordeel van die hele Suid-Afrika benut behoort te word. Deur dit aktief en vaardig te maak in alle kommunikasie-situasies 
waar dit kan werk, eerder as om op 'n hopie terug te trek en dit in isolasie te probeer blink vryf, dien ons die voortbestaan van die taal, 
en die lewensruimte wat dit vir al sy sprekers skep, soveel beter. Prof. Anton van Niekerk is voorsitter van die Departement Filosofie van 
die Universiteit van Stellenbosch.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av731.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Julie 2000 /// Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3) /// Terugblik 
op die grootste kunstefees (AV 7:3) /// Vlytige voorstander van veeltaligheid (AV 7:3) /// Forum vir openhartige debat (AV 7:3) /// Komrij 
blues (AV 7:3) /// Afrikaans as skakel na die buiteland (AV 7:3) /// Groot tjek vir stoepplesier (AV 7:3) /// Nuwe hoop vir ongeletterde 
plaaswerkers (AV 7:3) /// Behou diversiteit in globaliseringsproses (AV 7:3) /// Vennootskap van inheemse tale is prioriteit (AV 7:3) /// 
Carl Niehaus het in Nederland gebou (AV 7:3) /// Vele koppe maak puik planne (AV 7:3) /// ET blues (AV 7:3) /// Nuwe speler op die taalveld 
(AV 7:3) /// Talle faktore gryp in universiteitstaal in (AV 7:3) /// Tussen Scylla en Charybdis deurvaar (AV 7:3) /// Ver gemeenskappe se 
leiers leer sakevernuf (AV 7:3) /// Hansie blues (AV 7:3) /// Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3) /// 'n Bloeityd in die reklamebedryf 
(AV 7:3) /// Woordeboeke gee leerproses woema (AV 7:3) /// Nuwe toevoeging tot woordeboeklys (AV 7:3) /// Twee Koreane verstaan toe 
Afrikaans (AV 7:3) /// Studente wil in Afrikaans feesvier (AV 7:3) /// Afrikaans word in toneelwreld nuut gespel (AV 7:3) /// Jou 
Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3) /// Privaatgesprek (AV 7:3) ///

